Relaas van ‘n sonderlinge reis – Deur Tobie Wiese

Relaas van ‘n sonderlinge reis – Deur Tobie Wiese

“WAKING UP” deur Dr Kobus du Toit

 Relaas van ‘n sonderlinge reis

 Tobie Wiese

Kort nadat ek op Kobus du Toit se versoek ingestem het om ‘n resensie oor sy boek Waking Up. Cracking the Crisis Code (2018) te doen, het dit my berou. Eerstens word van ‘n resensent verwag om ‘n grondige kennis van die tersaaklike onderwerp(e) te hê en tweedens het ek gevra om dit in Afrikaans te doen. Pleks het ek Engels gekies, want van die begrippe en idees wat ter sprake is, lê veel gemakliker op die dikwels swewende Engelse tong as op sy aardse Afrikaanse eweknie. Pleks van ‘n resensie wil ek dit eerder “‘n ligte bespreking deur ‘n gewone leser” noem.

    Kobus du Toit het ‘n merkwaardige verhaal wat hoofsaaklik om drie gebeure wentel: ‘n groot rugoperasie wat ernstig skeefgeloop en hom byna ses jaar lank in ‘n geïnduseerde koma gelaat het; meer as een buiteliggaamlike en nabydoodervaring (OBE, NDE); en ‘n “miracle healing” wat, saamgereken, ‘n hele nuwe wêreld vir hom geopen het. Voor dié operasie was hy die besturende direkteur van die makelaarsafdeling van Boland PKS (voorheen Boland Bank Bpk) en later die van BOE Bank.

Hy was van kleins af onversadigbaar nuuskierig en opmerksaam, klaarblyklik meer as ander kinders. Hy was net twee jaar oud toe sy pa een nag op hom afkom waar hy op die kombuisvloer ‘n elektriese stroomkring gebou het. Op vier jaar het hy aangedring op antwoorde oor die heelal, die skepping, God, die kerk, insekte, voëls, die wind, water en see …

“One day, when I was around five years old, I was contemplating the existence of God, when a thought flashed through my mind: God is like the wind or water, now here, now there, both local and remote, always in flux, and God is present in everything …” Hoewel hy anders geleer is, het hy God nooit beskou as ‘n wese “wat uit die hemel oor ons regeer nie”. Lateraan: “I could not associate with the Calvinist idea of God as a person. My awareness was that this was a power, not a being.”

Met so ‘n buitengewone geskiedenis op ‘n jong ouderdom was dit seker voorspelbaar dat buitengewone dinge met hom sou gebeur.                                                          **

In Oktober 2000 het Du Toit ‘n tweede groot rugoperasie ondergaan onder die spreekwoordelike mes van ‘n neuro-chirurg wat toe reeds 12 uur lank aan die opereer was. (Sy naam en dié van die hospitaal word nie vermeld nie.) X-straalfoto’s daarna het getoon dat die spinale fusie wat op vlak L4/L5 uitgevoer moes word, verkeerdelik elders gedoen is. Boonop was daar geen tekens van ‘n volledige fusie nie en om alles te kroon, is yslike skroewe – veel langer en dikker as wat geskik is – gebruik. Die operasie was ‘n volslae mislukking en Du Toit het ondraaglike pyn verduur. Oor die daaropvolgende ses jaar is hy in veertien hospitale in Johannesburg, Pretoria en Kaapstad in ‘n geїnduseerde koma gehou om hom teen die pyn te verdoof, terwyl hy net by enkele geleenthede by sy bewussyn was.

Byna ses jaar ná die operasie, gedurende die nag van 14 op 15 September 2006, het hy ervaar dat hy sy liggaam verlaat en bo dit sweef; “the sight filled my non-physical beingness with curiosity as to what was happening”. Hy het van sy liggaam losgekom en wegbeweeg deur verskillende lae en vlakke, terwyl sy wese vervul is met ‘n gevoel van onbeskryflike en allesoorheersende vrede. “Soothed into a state of all-encompassing serenity, I was bathed in what I can only describe as unconditional love. I was completely embraced by this omnipresent comforting energy field. Everything was infused in the completeness of oneness. Drifting like a feather in the sky, I recognised nothing that I was accustomed to on the physical plane. My inner being was completely cradled in the Divine.” (Vertaal gerus self.)

“Ek het bewus geraak van ‘n wye spektrum van kleure en klanke buite die perke van wat aan die mens bekend is. Ek kon kleure sien, hoor, ruik en proe. Ek kon klanke ruik, proe en sien. Daar was geen waarneembare grense tussen hierdie bewusthede nie; alles was volkome in harmonie.”

Anders as sommige ander mense met soortgelyke ervarings, het hy nie deur ‘n tonnel beweeg en gesigte of persone soos Jesus of Krishna gesien nie. “Ek het ontdek dat energie in hierdie ryk deur intensie oorgedra word en kommunikasie deur telepatie.” 

“Ek was verstom oor die omvang van die inligting, insig en wysheid wat beskikbaar geraak het, hoewel ek nie in die materialistiese terme van vorm, struktuur en waarde daaraan gedink het nie. In hierdie ryk kon ek net uitdrukking gee aan ‘n intensie of begeerte om iets te weet of te verstaan, en oombliklik is dié insig ‘afgelaai’.

 “Ek was deurdring met die wete dat ek, die ware ek, my siel, in die teenwoordigheid was van hierdie alvermoënde, alwetende, alomteenwoordige en oneindige intelligensie – die bron van alles wat is. Ons noem dit God. Niks in ons planetêre stelsel kan met hierdie bron van energie vergelyk word nie.”

Hy het bewus geraak van ‘n klein lig, helderder en intenser as die son, waaruit liefde en sereniteit gestraal het “en ek het spontaan een geword daarmee”. ‘n Helder stem het uit die lig opgeklink wat hom meegedeel het dat sy wens om volkome te herstel, vervul sal word. “Laat staan jou medikasie en jou liggaam sal herstel tot so gesond soos jy op 24 jaar was.”

 Du Toit het dié instruksie gevolg en het sowat 12 maande later volkome herstel, ondanks die skroewe wat tot vandag nie verwyder of vervang is nie. Hy moes in dié tyd ook sy liggaam se verslawing aan morfien as gevolg van ses jaar se volgehoue toediening oorkom. Gedurende die herstelproses en sedert sy eerste buiteliggaamlike ervaring is hy begelei en onderrig deur “non-physical beings, guides and mentors”.

Die deursnee- denkende leser sal waarskynlik skepties na veral hierdie deel van Du Toit se verhaal luister. Trouens, hy bevestig dié reaksie van sommige mense en neem hulle nie kwalik nie. Toe ek ‘n geleerde vriend na sy mening oor dié soort ervarings vra, was sy kommentaar: “Ek luister daarna, soos wat ek na mense se drome luister. Dit lê vir my op daardie vlak. Dat dit nie wetenskaplik gemeet en geverifieer kan word nie, beteken nie dat dit nie belangrik is nie.”  

Dis hier waar ‘n dilemma opduik. Vir Du Toit en ander soos hy is die ervaring van so ‘n “journey to the afterlife” lewensbelangrik en lewensveranderend. Hy bied immers ‘n oortuigende opgawe van hoe dit sy lewe verander het, en dit ten goede. Vir wetenskaplik ingestelde mense sal sy bonatuurlike ervarings en die interpretasie daarvan egter problematies bly, veral dié aanspraak: “In my experience, empirical evidence, or experience-based evidence (versus the evidence-based method – my invoeging) is the best way to find the truth.” Hy wys tereg daarop dat óók die (veral mediese) wetenskap se afgebakende metodologie en parameters bevraagteken en uitgedaag moet word. Niks is immers by voorbaat van rasionele ondersoek uitgesluit nie.

In dié verband: Is vooroordele in hoofstroomdenke die rede daarvoor dat hy geen uitgewer – en nadat hy dit self netjies en hoogs leesbaar laat uitgee het, ook geen verspreider  ̶  vir sy boek kon vind nie?   

                                                          **

Du Toit skryf openhartig oor sy vurige maar vrugtelose gebede tot God – vir antwoorde op al sy wetenskaplike(!) en persoonlike vrae, veral rakende die katastrofiese gevolge van sy mislukte operasie. “When God seemed silent, I was actually being addressed in a Divine language I was unable to understand. It is only when I accepted my discomfort and detached from it that I was able to evolve into my soul’s purpose and meaning for being on Earth. I had to allow the cosmic powers of transformation to complete its metamorphosis. I required a complete cleansing from all former man-made belief systems and misinformation around the beingness of God.”

Hy ag homself besonder gelukkig dat sy buiteliggaamlike ervarings hom toegang gebied het tot die “Divine realms” wat vir hom die ultieme bron van inligting en begrip is.

Ironies genoeg, was dit nie goed genoeg nie. Hoewel hy alles wat sou hart kon begeer – en méér – verkry en beleef het, wou hy dit ook nog verstaan. Daarom het hy hom noodwendig  ̶  nog ‘n ironie  ̶  tot die wetenskap in die breë gewend. Aan die Universiteit van Sedona in die woestynstaat Arizona het hy tydens dié soektog vier doktorsgrade verwerf op grond van die volgende proefskrifte: Metaphysics. The Science of Knowledge, Understanding and Wisdom, acquired from Ontology and Epistemology; Metaphysics of Human Behavior – the Phenomonology of our Personae; Science of the Human Mind; en The Hidden Teachings of Christ. 

Universiteit van Sedona? Het ek nog nooit van gehoor nie. Oor dié onvriendelike insinuasie sal hy waarskynlik daarop wys dat dít juis die Catch22-dilemma is: Die klassieke wetenskappe steur hulle nie aan dit wat nie volgens klassieke wetenskaplike metodes gepostuleer, ondersoek en geëvalueer kan word nie. Daarmee is hulle noodwendig afgesluit van die esoteriese fonteine waaruit hy met oorgawe leer drink het. Hierin is hy nie alleen nie. In aansluiting by sy persoonlike belewenisse, beroep hy hom onder meer op die werk en publikasies van mense soos Bruce Lipton (The Biology of Belief), Max Planck, Niels Bohr, Werner Heisenberg, Louis de Broglie, Arthur Compton, Albert Einstein, Erwin Schrödinger, John von Neumann, Paul Dirac …   

                                               **

Daar is ‘n interessante (en veelseggende?) gewaarwording wanneer ‘n mens naas Du Toit se vertelling ook ‘n boek soos 90 Minutes in Heaven (Grand Rapids: Revell, 2014) deur Don Piper, ‘n Amerikaanse Baptiste-predikant, lees. Hy was in Januarie 1989 ná ‘n kerkkonferensie in ‘n grusame  motorongeluk. Paramedici kon geen polsslag by Piper bespeur nie en hy is op die toneel dood verklaar. ‘n Kollega het daarop aangedring om vir “die man in die motor”, hy het nie geweet wie dit was nie, te bid ondanks die beamptes se aandrang dat dit nutteloos sou wees.

Piper: “Terwyl ek nog die brug en die reën kon sien, wat my laaste herinnering is, het ‘n lig my omvou. Die glans daarvan was buite enige aardse begrip of beskrywing. Die volgende oomblik was ek in die hemel. Vreugde het deur my are geklop en ek het bewus geword van ‘n groot skare mense wat voor ‘n glansende en ornate hek staan. Hulle het my tegemoet gekom, maar ek het Jesus nie onder hulle gesien nie. Ek het dadelik besef dit is mense wat in my leeftyd gesterf het. Almal het gelag, uitgeroep en God geprys.

 “Almal het my deurentyd omhels, met my gepraat, gelag en God geprys.” Hy kon kwalik ‘n houvas kry op die skitterende en duiselingwekkende kleure van elke moontlike tint en toon. Niks was nog ooit so werklik soos dít wat hy daar gesien, gehoor en beleef het nie. “Die beste hoe ek dit kan beskryf, is dat ek in ‘n ander dimensie was.” Die mees oorweldigende was die belewing van klank wat hy net kan beskryf as ‘n “holy swoosh of (angels’) wings”.

Dis duidelik dat Piper se ervaring in die breë inpas by die Bybel se beskrywings van die saligheid wat op die gelowiges wag. Du Toit se ervaring was ook uiters sensories en hemels (hoewel hy nooit dié woord gebruik nie), maar dit was veral ingestem op die bevrediging van sy kognitiewe behoeftes. In verskeie opsigte is hul belewing van die hiernamaals heel verskillend en uiteenlopend. Die gevolgtrekking is noodwendig dat elkeen ervaar het waarop hy waarskynlik – en moontlik onbewustelik ̶  gehoop het. (Tong-in-die-kies: dis ook ‘n gerusstelling vir almal wat vrees dat hulle eendag iemand anders se hemel en nie hul eie nie, sal beleef!)      

                                  **

Dis nie net Du Toit se OBE’s en NDE’s wat sommige lesers vreemd – maar bes moontlik geloofwaardig  ̶  sal vind nie, maar vir my persoonlik die uitlatings van verskeie medici (van die “corrupt medical profession”) wat oor sy pad gekom het: die neuro-chirurg dr Schultz (‘n skuilnaam) wat kort voor die operasie “mumbled ominously in to my ear: ‘Remember, there are no guarantees’”; ‘n ander neuro-chirurg wat hom sewe jaar ná die operasie verseker het (nadat hy die saalsuster weggestuur het) dat hy ‘n “rock-solid fusion” van dr Schultz gekry het wie se reputasie bo verdenking is; ‘n neuroloog wat hom lank ondervra het (rekening: R5 000) en persoonlike inligting oor Du Toit gehad het wat hy nog nooit skriftelik aan enige dokter verstrek het nie en wat hom met ‘n kwalik bedekte dreigement gegroet het: “I want you to know, things could get rough from now on.” Dis genoeg om enigiemand nagmerries te gee voor ‘n besoek aan die dokter!    

Hoekom behoort ‘n mens van Du Toit se ervarings, onder op die aarde en bo in die hemel, kennis te neem?

Een antwoord daarop: Hy het in die finale instansie sy “mental energy of intention” gebruik om homself te genees. Dit was nie ‘n mirakel buite sy wil en sonder sy medewerking nie.

Op grond van sy studies het hy daarvan oortuig geraak dat ons deur daadwerklike en aktiewe intensies in staat is om die genetiese aard van ons DNS te herkodeer of aan te pas. Sy doel met die boek, verduidelik hy, is om dié lewensveranderende inligting beskikbaar te stel sodat mense dit in hul eie lewe kan toepas: “to be fully healed from whatever ailment they migt have, and to be fully revitalized.” In die niemateriële sfeer waar hy hom bevind het, het hy niefisieke wesens ontmoet wat hom as mentors, gidse en leermeesters bygestaan het “and who are still with me to this day”.

Wie sal in ons verwarrende wêreld needankie sê vir sulke goddelike begeleiding? 

Tobie Wiese is ‘n skrywer, redigeerder en oudjoernalis. Sy nuutste boek, Wreed én mooi is die dood (Jonathan Ball Uitgewers, 2019) waarvan hy die samesteller is, verskyn op 1 Mei 2019.